Die Skoolwapen

wapen2

Die skoolwapen bestaan uit drie kleure: groen, argent en goud.

Die groen simboliseer die nuwe begin, groei, harmonie en oorvloed wat ervaar is toe Hoërskool Carletonville in 1953 in ‘n volwaardige hoërskool ontstaan het.

Die argent (wit/silwer) agtergrond in die wapen simboliseer reinheid, vrede, waarheid, vreugde en glorie. Almal waardes waarin ons as mens glo, vashou en na strewe om te ontwikkel tot volwaardige volwassene.

Die goud simboliseer nie net die goud wat gelei het tot die ontdekking van ons dorp nie, maar is ook simbolies van God, die middelpunt waarom ons lewens draai, in die vorm van ‘n son met strale  wat oor ons skyn en waak.  Die tien sonstrale is simbolies van ons strewe na perfeksie.

Binne die skild is daar ‘n knielende seun en meisie elk  met ‘n leë kelk in hulle hande, wat nederig en met dankbaarheid kennis en gawes onverdiend van God af ontvang. Die leë kelke is ook simbolies van die lewensreis waarop hulle moet gaan om hulle vermoëns te ontdek. Hierdie seun en dogter is ook simbolies van die jeug en die toekoms van ons land.

In die middel van die skild is ‘n obelisk wat gekroon is met die son wat eer bring aan ons verlede en helde maar ook die aandag vestig op dit wat die toekoms inhou.

Die leuse “Ek kan as ek wil” is op ‘n eenvoudige groen vaandel geskryf wat op die christelike grondslag rus dat enige taak vermag kan word in die wete dat die krag daarvoor deur God voorsien word en Hy ons gedurig deur lei.

 

 

Die Vlag

vlag

Aan die linkerkant van die vlag is daar ‘n argent (silwer-wit) driehoek of prisma wat simbolies is van al die leerlinge in die skool. Die diverse kultuur-en kleur-groepe. Net soos lig opbreek in die verskillende kleure van die kleurspektrum so divers is die simboliese voorstelling van die leerders in Hoërskool Carletonville, maar tog vorm al die faktore ‘n enkele kleur of stroom, silwer-wit soos dit spoed en rigting verander soos dit deur die prisma beweeg om eenheid voor te stel.

Aan die bopunt van die vlag is daar ‘n strook groen wat simbolies is van groei en nuwe lewe.

Onder die groen strook is daar die goue (of geel strook) simbool van die goud waarop ons dorp se bestaan gevestig is maar ook simbolies is van die ondersteunende krag wat ons daagliks van God ontvang soos hy ons dra in ons groei en ontwikkeling.

 

DIE HYSING EN STRYKING VAN DIE VLAE MOET IN DIE VOLGENDE ORDE GESKIED.

 

  1. Tradisie wil dit hê dat die vlag aan die begin van elke werksdag gehys moet word voor 7:15am; voor of tydens sonsondergang moet die vlag egter weer gestryk word, in die geval van die skool 13:50. Twee leerlingraadslede per rooster is verantwoordelik hiervoor.
  2. In die geval van reën moet die betrokke leerlingraadslede verantwoordelik vir die vlae dadelik toestemming verleen word om die vlae te stryk, te versorg en te bêre.
  3. Beide die landsvlag en skoolvlag moet in die kluis by die hoof se sekretaresse gebêre word nadat dit korrek opgevou is vir die volgende dag se gebruik.
  4. Die vlae moet seremonieel gehys en gestryk word. Wanneer iemand sien dat die amptelike vlae gehys of gestryk word behoort hulle te stop en eerbied te toon.
  5. Die vlag moet altyd korrek vertoon word, d.w.s. in die geval van die landsvlag met die swart driehoek teen die vlagpaal en die rooi trapesium na bo. In die geval van die skoolvlag moet die wit driehoek teen die vlagpaal en die groen trapesium na bo.
  6. Wanneer die landsvlag saam met die skoolvlag getoon word, moet beide vlae aan ‘n aparte stok hang en moet die Suid-Afrikaanse vlag aan die linkerkant hang (van voor af gesien).
  7. By die hysing van die vlae moet die landsvlag gehys word voordat die skoolvlag gehys word, waneer beide vlae aan die bopunt van die vlagpaal is word die landsvlag eerste ontplooi en dan die skoolvlag.
  8. Met die stryk van die vlae word die landsvlag eerste gestryk voordat die skoolvlag gestryk word, dis belangrik om te onthou dat die vlae nie die vloer mag raak tydens hierdie prosedure nie.
  9. Dit word as beledigend gesien om die vlag te vermink of deur ‘n vuil vlag te hys. Vlae wat nie meer herstel kan word nie behoort vernietig te word, by voorkeur deur middel van verbranding. Vlagpale behoort ook goed in stand gehou te word.
  10. Beide die vlae moet te alle tye met “waardigheid en eerbied” hanteer word. Die amptelike reëls stel dit onder andere dat die vlae nooit aan die vloer mag raak nie, dit mag nie as tafeldoek dien of voor ‘n platform neergelê word nie, dit mag nie gebruik word om ‘n standbeeld, plakkaat of hoeksteen te bedek nie (bv. by die bekendstelling van ‘n nuwe standbeeld) en dit mag nie gebruik word om enige wedloop/-ren of kompetisie te begin of eindig nie.