Die trane die rol oor ons vasvat Faktotum, Oom Louis Horn.  Oom Louis het met sy absolute kundigheid, brawadies in Desember 1999 sy wiele by die hekke van Callies ingerol.  Sy gesigsuitdrukking, sagmoedige hart, kennis en vernuf het sommer als op die terrein sonder ‘n krummel kunsmis skielik laat spruit, groei, bloei en ophelder. 

Vir oom Louis se hande het niks verkeerd gestaan nie, ‘n mens sê ‘n vrou kan”multi-task”, maar oom Louis gee die vroulike geslag in daardie area definitief ’n ordentlike “go”.  Hy kan letterlik alles doen, van sweis, skroef, boor, klagtes aanhoor, kap, klap, hak, ry, soek, las, was, verf, bederf, kerf en enige iets dergliks waaraan jy kan dink.  Vir die onnies was oom Louis ‘n absolute gegewe, sonder hom sou hulle nie die dae kon maak nie.  As ‘n sleutel verloor het, of vergeet was, of voete gekry het, was die roete lynreguit na oom Louis, as jou kar nie wou “Start” nie, jou wiel pap was, jou battery ingekonk het, weereens roete, lynreguit na oom Louis, as ‘n venster breek of ‘n deur misterieus nie wou oopmaak nie en jy sit vasgekeer  –  roete lynreguit na oom Louis.  As jy moet bank toe ry of iewers heen ry het oom Louis jou met liefde vergesel.  Oom Louis sou jou tot insleep skool toe as een van die “Potchefstroom karre” binne ‘n radius van 20km van die skool af een oggend besluit, tot hier toe ry ek en nou breek ek  –  “speedail”  oom Louis.  Selfs die leerlinge het die pad na oom Louis toe ontdek wanneer daar een of ander noodgeval opduik en goedhartig het hy help skoene en truie soek en balle van dakke en uit bome uit gered.  Oom Louis se handewerk het ‘n kenmerkende afdruk en dit kan mens opslag sien as jy net ‘n halwe oog op die terrein en geboue gegooi het.  Alles kan jy deur ‘n ring trek, selfs ‘n geut wat deurgeloop het tussen oom Louis se hande sou deur daardie ring pas. 

Oom Louis het die einde Oktober sy teuels na 20 jaar en 10 maande by Hoërskool Carletonville neergelê, maar sy fakkel sal beslis vir ewig brand!  Hy laat groot gate en groot skoene agter om te vul en dit gaan ‘n gesoek en ‘n gesukkel wees om iemand van oom Louis se kaliber te vervang. 

Oom Louis verhuis na Bela Bela, waar hy so gelukkig is om op ‘n Cheetah-bewaringsplaas te gaan woon.  Rus lekker oom Louis en weet net in die harte van almal by Hoërskool Carletonville sal jou herinnering vir ewig staan.