Vir 37 jaar en 10 maande, sedert  1 Januarie 1983 het ek skool gehou by Hoërskool Carletonville.  In 1993 het ek HOD vir Wiskunde geword en beklee die pos vir 27 jaar.  Ek was hoofsaaklik ‘n Wiskunde-onderwyser vir Gr. 10 – 12 leerlinge.  Ek het vir 30 jaar matriekvraestelle gemerk.

 

Dit was veral in skaak as buitemuurse aktiwiteit waar my spelers uitgeblink het en vir jare het ons skool provinsiale skaakspelers opgelewer.  Ons was vir baie jare die ligawenners.  Ek het ook verspring afgerig.

 

Ek ontmoet my vrou hier by Callies en hou saam skool tot in 2006 waarna sy ‘n pos by Potch Boys High aanvaar.

 

Vir my was skoolhou ‘n absolute roeping en ek het elke oomblik daarvan geweldig geniet. Ons as onderwysers is mense wat elke dag ons leerders se lewe aanraak en daarom moet ons goeie rolmodelle vir hulle wees.  Ek het saam wonderlike wiskunde-onderwysers in my department gewerk en sal van hulle nooit vergeet nie.

 

Ek en my vrou “emigreer” na die “Kolonie” vroeg in November, waar ons in Danabaai, Mosselbaai gaan aftree.  Ons sien uit na lang staptogte langs die see en enige roete in die Outeniquaberge.

 

Callies was baie goed vir my.  Baie kinders het in die amper 38 jaar deur my hande gegaan.  Baie saadjies is geplant en mag die uitkoms daarvan goed wees vir ons samelewing en ons land.  Ek het elke oomblik daarvan geniet.

 

Mnr. Piet Broodryk was een van die mees passievolste wiskunde onderwysers en laat ‘n baie groot leemte by Callies, ons gaan hom inderdaad baie mis.  Geniet die aftrede.